Grappig, net een antwoord gegeven op bovenstaande, en een minuutje later komt onderstaande binnen via email.
Ik zie daar mogelijkheden.
Tata,
Aryan
__________________
22/02/2009 Rapport
Meeste wit Suid-Afrikaners tussen 24 en 40 het land verlaat, sê instituut
Johan Eybers
Johannesburg
Daar is nou meer wit mans in die ouderdomsgroep 60 tot 64 in Suid-Afrika as in die ouderdom 30 tot 34.
Dit was die reaksie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) oor die wye kritiek op ’n voorbladartikel van die gesaghebbende internasionale tydskrif Newsweek wat handel oor die uittog van die middelklas uit die land.
Suid-Afrikaanse organisasies gemoeid met emigrasie het die artikel, wat die afgelope week in die tydskrif verskyn het, as “onakkuraat” en “sensasioneel” afgemaak.
Die opskrif op die voorblad van die tydskrif lui: “Vlug uit Suid-Afrika – waarom die middelklas se uittog ’n krisisvlak bereik het”.
Dit artikel word geïllustreer met foto’s van plaaslike misdaadtonele en hospitaalpersoneel wat misdaadslagoffers behandel.
Statistieke van die SAIRV word in die artikel aangehaal wat daarop dui dat wit Suid-Afrikaners die land verlaat asof daar ’n “besmetlike siekte of ’n burgeroorlog uitgebreek het”.
Mnr. Frans Cronjé, adjunk-voorsitter van die SAIRV, sê hoewel die berig Suid-Afrika in ’n slegte lig stel, skep dit ’n bewustheid van die probleem van die groot aantal veral wit opgeleide burgers wat die land sedert 1994 verlaat het.
“Die berig toon die erns van die talentverlies uit die land en dat die redes daaragter dringend gepak moet word,” sê Cronjé.
“In daardie opsig slaag die artikel in sy doel.”
Volgens hom is die grootste gedeelte van die wit Suid-Afrikaners in die ouderdomsgroep van 24 tot 40 landuit.
“Na raming het meer as 750 000 jong wit Suid-Afrikaners en hul kinders die land sedert 1994 verlaat.”
Hy sê hul navorsing toon dat jong gesinne in die bruin en Indiër-gemeenskap ook die land in groter getalle verlaat en dat die swart middelklas ook vir beter geleenthede na die buiteland uitwyk.
“Die probleem is dus nie beperk tot wit talent wat die land verlaat nie, maar dat daar talentverlies onder alle bevolkingsgroepe is – wit, bruin, In?diër en swart,” sê Cronjé.
Me. Martine Schaffer, besturende direkteur van Homecoming Revolu?tion, ’n organisasie wat Suid-Afrikaners oorsee aanmoedig om na hul land terug te keer, het die berig as “verlede jaar se ou nuus”, “sensasioneel” en “onakkuraat” beskryf.
“ ’n Jaar gelede was daar waarde in die storie toe mense hul vertroue in die land verloor het weens die geweldige politieke skommelinge wat gepaardgegaan het met mnr. Jacob Zuma se verkiesing tot ANC-president, die Eskom-kragkrisis, xenofobiese aanvalle op buitelanders en die ekonomiese krisis in Zimbabwe.”
Dinge het intussen baie verander weens die wêreldwye finansiële krisis, sê sy.
“Die finansiële krisis is nou ’n katalisator vir mense om weer terug te keer na Suid-Afrika.
“Dit het veroorsaak dat Suid-Afrikaners in die buiteland nou moet staatmaak op die ondersteuning van hul familie en vriende en geleenthede in Suid-Afrika. Daarom keer hulle nou in groter getalle terug huis toe,” sê sy.
Dit word weerspieël in die toename van Suid-Afrikaners in die buiteland wat by hulle navraag doen oor werkgeleenthede, huispryse en die koste om terug te keer na Suid-Afrika, sê sy.
“Baie van hulle is professionele mense wat al langer as 20 jaar in die buiteland bly,” se Schaffer.
Me. Alana Bailey van die vakbond Solidariteit se Kom Terug Huis Toe-veldtog, sê hulle ondervind ook dat die uittog uit Suid-Afrika “heeltemal” tot stilstand gekom het.
“Ons sien veral baie mense met tegniese vaardighede wat terugkeer Suid-Afrika toe omdat hul kontrakte in die buiteland nie hernieu word nie.”