Kerktoring val met restourasiepoging
JAN GERBER
Swellendam
28/11/2008 07:48:24 AM - (SA)
“Waar’s die haan?” wou omstanders gistermiddag by die NG Moederkerk hier weet.
Die haan wat op die kerktoring moet staan, het op die grond gelê, want dié kerk is kort ná 17:00 met ’n halwe kerktoring gelaat.
’n Restourasiepoging wat met behulp van ’n lugmaghelikopter aangepak is, het sleg skeefgeloop.
Die kerk in Swellendam se hoofstraat is in 1911 gebou en die boonste gedeelte van die toring is van hout gemaak. Mettertyd het die hout begin verrot. Vanjaar is planne gemaak om die toring te vervang voordat dit op die kerk se dak beland.
Dit is egter presies wat gebeur het in ’n poging om die ou toring te verwyder om plek te maak vir ’n replika wat intussen gebou is.
Die lugmag het ’n Oryx-helikopter beskikbaar gestel om die toring te lig.
Die kerkraad het self stroppe laat maak om die toring te lig, maar het nie rekening gehou met die skerp snykante van die sinkplaat wat deel van die toring uitmaak nie.
Dit het na verneem word een van die stroppe deurgesny kort nadat die boonste punt van die toring opgehys is en dit het na benede getuimel.
“Toe hy ’n paar meter in die lug was, toe val hy af,” het ’n man gesê.
Ds. Tolla van der Merwe, die kerk se leraar, wou by navraag geen kommentaar lewer nie.