Robbeneiland toe op luukse jag
Sep 26 2008 09:48:23:880PM - (SA)
Kaapstad. – Toeriste sal Robbeneiland voortaan in groot gerief en gemak kan besoek – op die eerste private motorjag wat passasiers tussen die V&A Waterfront en die eiland sal vervoer.
Die Inala, ’n luukse jag van sowat R10 miljoen, is gister in gebruik geneem.
Die jag behoort aan die maatskappy Original Boats van mnr. Thabane Zulu, wat in die anti-apartheidsera die jongste aangehoudene op Robbeneiland was.
“Omdat die keuse tans beperk is tot die gebruik van ’n aantal staatsvaartuie, het ons gevoel die tyd is ryp om ’n private en luukse ervaring (vir besoekers) te skep,” het Zulu gesê. “Ons doel is om ’n deel van die inkomste in die doeltreffende bestuur van die museum te belê.”
Die Inala is ’n 15,5 m lange motorjag met ses slaapplekke en kan tot 12 passasiers akkommodeer. – Theuns van der Westhuizen