Ingezonden brief uit “Beeld” die treffend weergeeft hoe men gewend kan raken aan criminaliteit in Zuid-Afrika.
Skote klap. Naby. Sjoe, aartappels is nou duur!
Sep 17 2008 08:48:42:900PM - (SA)
Gewapen met ’n inkopielys stap ek en my seun by die Equestria-winkelsentrum in. Ek het skaars ’n winkeltrollie aan die rol gekry toe polisiesirenes in Simon Vermootenweg baie hard begin loei.
Remme skreeu en skote begin klap. Nog sirenes loei. Soos nuuskierige klante en werkers uithardloop, jaag ek my seun na die agterkant van die winkel om tussen koeldrankkratte te gaan platval.
Nog skote klap. Naby. Jitte, maar aartappels het duur geword. Mense hardloop steeds na buite. ’n Motor slaan swaar remme aan en tref iets baie hard. Glas spat. Nog skote. Moet ek vanaand eerder suikermielies maak, of broccoli stoom?
My seun loer tussen die koeldrank uit. Ek wys hy moet bly lê en haal ’n paar blikkies katkos van die rak af. Toiletpapier, ontbytpap. Moet ek vla koop vir saam met die malvapoeding, of eerder die vla self maak? Ek koop maar ’n houertjie. Wanneer het vla se prys so opgegaan?
’n Helikopter kom draai oor die winkel se dak; my seun wil opsluit gaan kyk. “Seun, los die chopper en gaan haal vir my 2 liter melk.” Mense begin weer in die winkel inkom; ’n tannie met ’n wit kop laai ’n mooi bos rose in haar mandjie. Ek kry ’n skindertydskrif en rol na die betaalpunt.
Toe bystandsvoertuie begin aankom, klim ek en my seun in my motor. Ons ry by die hekke uit, in ’n teenoorgestelde rigting.
Is ek onsensitief? Dalk. Maar ook afgestomp. Én ek het vergeet om vuilgoedsakke te koop.
Mariska Rabie, Pretoria